Theron`s Vleisprodukte se perseel – Meer as net ‘n fabriek!
Wat maak `n gebou `n besigheid?
Theron`s Vleisprodukte het in 1983 begin as `n kouevleis vervaardigings aanleg om die bekende Lynnpark Slaghuis van kouevleise te voorsien.
Groot Oupa Dawie Theron het die eerste van `n reeks Theron slaghuise geopen in Greenstraat Parkview Pretoria, in 1952. Die bekende Lynnpark slaghuis het gevolg en was vir jare menige vleisliefhebber se nommer een slaghuis om te besoek vir uitsonderlike diens en net die beste kwaliteit vleis.
Lynnpark slaghuis maak sy deure vir die eerste keer in 1959 oop. Dawie junior onthou goed hoeveel gelukkige ure hy by Oupa in die slaghuis spandeer het. Op ouderdom dertien het Dawie se pa; Dawid senior, hom reeds om 04h00 soggens uit die vêre geskop om in die slaghuis te gaan werk. Tydens diè vakansiewerk, doen Dawie kosbare praktiese ondervinding van die vele fasette van`n slaghuis en die besigheidswêreld op. Hy word `n meester sosatie maker, bemeester die stop van wors, skoonmaak van werkstasies, verpakking van produkte en selfs klantediens deur pakkies vir kliënte na hul motors te dra!
Dawie Theron junior kwalifiseer homself as blokman en doen onontbeerlike praktiese besigheidsbestuursondervinding op in sy dienstydperk in die Groothandel afdeling van die familiebesigheid. Hierdie ondervinding gekombineerd met sy Diploma in besigheidsbestuur, stel hom in staat om in 1991 die uitvoerende bestuur van Theron`s Vleisprodukte oor te neem. Op diè stadium was Theron`s Vleisprodukte se doel om die Theron familiebesighede van polonies, weense worsies, russians en ontbytspek te voorsien, en was die besigheid nie baie winsgewend nie. Die perseel was om en by 200 vierkantemeter, en alle prosesse van aflewering tot produksie, verpakking, reg deur tot by versending was op een vloer gesetel. Om sake te bemoeilik was die perseel op die tweede vloer van die groothandel besigheidsgebou in Pretoria-Wes, en was operasionele toegang en proses-vloei gebrekkig.
Wat maak `n besigheid `n vesting, `n bastion wat ekonomiese insinkings en vervaardigingsuitdagings die hoof kan bied? Die hartstog en visie van `n wenspan!
Dawie kwalifiseer hom in die kuns van vervaardiging van geprossesseerde vleis, en takel die baie eenvoudige fabriek met een doel voor oë: Uitbreiding van die fasiliteit, om sodoende Groot en kleinhandelbesighede van `n wye verskeidenheid geprosesseerde vleis te voorsien. Die eerste taak op hande is om die fabriek winsgewend te maak en die fokus val op verbeterde vervaardigingspraktyk en groei van Theron`s se kliëntebasis. Die fasiliteit kan nie vergroot word nie, maar met slim beplanning word die beste gehaal uit die beperkte spasie. Sommige dae werk die swaar goedere dienshyser nie, en moet personeel rou materiale wat vleis, speserye, verpakkingsmateriaal en toerusting insluit, maar met die trappe opdra!
Die groothandel verkope van Theron`s Vleisprodukte groei bevredigend en in die jaar 1995 verwelkom Theron`s Vleisprodukte Jan Publiek, om teen ware fabriekspryse by Theron`s Vleisprodukte DIREKTE aankope te doen. Ongekende groei in verkope volg en die nuus van Theron`s se kwaliteit en bekostigbaarheid versprei soos `n veldbrand. Gou raak die perseel te klein en word `n nuwe, groter perseel `n dringende noodsaaklikheid. Die soektog na `n geskikte oplossing word `n uitdaging wat onoorkombaar bleik te wees. Om operasioneel te bly EN `n nuwe perseel te bou, is haas ondenkbaar. Met die jare word die ou perseel in Elsonstraat vergroot deur nog `n vlak van die ou Groothandel te huur. Met produkontvangs en versending van vervaardigde produkte steeds afhanklik van een goedere hyser; wat onbetroubaar en duur is om in stand te hou, lyk die uitdagings om `n wêreldklas aanleg op twee vlakke te bestuur VERSWELGEND.
Vir `n verstommende tydperk van 26 jaar dryf Theron`s Vleisprodukte suksesvol handel ten spyte van `n baie klein perseel. In die jaar 2009 word `n transaksie beklink om die besigheidperseel langs die bestaande fabrieksfasiliteit te koop, en `n nuwe droom word werklikheid. Die aanbou van `n nuwe fabrieksfasiliteit wat voldoen aan internasionale standaarde. Modern, so “groen” moontlik en tegnologies gevorderd. Die span by Theron`s Vleisprodukte beywer hulle om die beste geprossesseerde vleisaanleg in Gauteng te word, en spandeer ure om navorsing te doen oor proses-vloei, voedsel en higiëne standaarde, en die opspoor van die beste toerusting en operasionele sisteme in die bedryf.
Opgradering van die fabrieks fasiliteit
Die oorbou van die nuwe Theron`s Fabrieksaanleg strek vanaf 2009 tot en met Augustus 2013 en sluit die volgende wêreldklas afdelings in.
Theron`s se fabriekswinkel in Mitchell straat ( Nou Charlotte Maxeke) Die deure van die nuwe winkel word geopen op die 9de November 2009.
Administratiewe kantore en `n raadsaal vir bestuursbeplanning en opleiding van personeel.
`n Droeë stoor en verskeie produk ontvangs areas en vrieskaste vir voorraad
Tegnologies gevorderde produksie-areas wat spog met tegnologies gevorderde masjiene en rookkaste wat werk op “groen” stoom energie.
`n Varsvleisverwerkings area word aangebou direk langs die fabriekswinkel, ten einde kwaliteit produkte te alle tye beskikbaar te stel vir Theron`s se lojale klante.
`n Ruim verpakkings, bergings en versendings afdeling, vergemaklik vinnige, en higiëniese verpakking van produkte en flinke verspreiding na kliënte.
`n Wêreldklas toetskombuis vir voorbereiding van etes, `n dokumentstoor en `n aanleg waar etikette vir produk klassifisering gedruk word, dra by tot `n aangename werksomgewing vir personeel.
Met groot opgewondenheid word Elson straat se ou perseel se deure een laaste maal toegetrek aan die einde van Augustus 2013, en begin `n nuwe era vir Theron`s Vleisprodukte.
Die groot aanvraag na kwaliteit produkte en warm kosse, noop Theron`s om aan die begin van 2015 meer gespesialiseerde industriële oonde, platbraaiers en roosteroonde te installeer
Theron`s se fabriekswinkel en warmkoskombuis verkope toon uitsonderlike groei sedert November 2009 en in Februarie 2015 word die kombuis area vergroot en toerusting word verder opgegradeer. Die groot aanvraag na kwaliteit produkte en warm kosse, noop ons om meer gespesialiseerde industriële oonde, platbraaiers en roosteroonde te installeer. Die bedieningsarea word verbeter, om NOG BETER DIENS aan u; Theron`s Vleisprodukte se gewaardeerde klante te lewer!
In die jaar 2019 word n aparte afdeling aangebou wat uitsluitlik fokus op die prosessering van Theron
s se BEROEMDE REEKS VARKRIBBETJIES en die verpakking daarvan! Saam met hierdie toevoeging word die afdeling wat Theron`s se ander vlagskip produk vervaardig ook opgegradeer. Hier word Theron`s se ewe
BEROEMDE BOEREWORS elke dag vars vervaardig. Die afdeling kry n splinternuwe voorkoms en word toegerus met wêreldklas worsstoppers vir die uitsluitlike stop van Theron`s
se vars worsreeks.
Ons besigheid se fokus is om met verantwoordelikheid te kyk na Theron`s Vleisprodukte en sy personeelkorps. Om `n verskil te maak in ons onmiddelike gemeenskap en om uitsonderlike diens aan Theron`s se klante te lewer. Dit is met groot genade en uitsonderlike dankbaarheid dat ons seën ontvang op `n baie harde en lang pad van uitbou en groei. Mag elke klant wat deur ons besigheid bedien word `n verskil in kwaliteit en diens ervaar!